ONS GELOOFSBELYDENIS:
• Ons glo in die oorspronklike geskrewe, God-geïnspireerde Ou- en Nuwe
Testament. Ons aanvaar dit as die hoogste en finale gesag vir geloof
en oorvloedige lewe.
• Ons glo in een God wat vir ewig bestaan as drie persone: Vader, Seun
en Heilige Gees.
• Ons glo in Jesus Christus wat van God ontvang en deur die Heilige
Gees verwek is en gebore is uit die maagd Maria. Ons glo dat Hy
waarlik God is en waarlik mens geword het.
• Ons glo dat God die mens na Sy eie beeld geskape het. Deur te sondig
het die mens die straf van die sonde, naamlik fisiese en geestelike
dood, in werking gestel.
• Ons glo in die beginsel van heteroseksuele verhoudings tussen ‘n
natuurlike man en ‘n natuurlike vrou binne die grense van ‘n wettige
huwelik.
• Ons glo dat Jesus Christus, volgens die Skrif, vir ons sonde as
plaasvervangende offer gesterf het en dat elkeen wat in Hom glo
geregverdig is op grond van Sy gestorte bloed.
• Ons glo dat Jesus Christus fisies opgestaan het uit die dood en
opgevaar het na die hemel en dat Hy nou as ons Hoëpriester en
Voorspraak leef.
• Ons glo in die persoonlike wederkoms van ons Here Jesus Christus.
• Ons glo dat almal wat Jesus Christus deur die geloof aangeneem het
en hulle van hulle sonde bekeer het, deur die Gees wedergebore is en
daarom kinders van God genoem kan word.
• Ons glo in die doping in die Heilige Gees, wat ons met krag beklee
en ons toegang gee tot die gawes van die Gees waarmee ons ons
dienswerk kan verrig. Ons glo in die Gods-ingestelde bedieninge van
die Apostel, Profeet, Evangelis, Herder en Leraar.
• Ons glo in die opstanding van beide die regverdige en die
onregverdige, die ewige geseëndheid van die vrygekooptes en die ewige
verbanning van almal wat die gawe van verlossing verwerp het.
• Ons glo dat die leierskap van die kerk die verantwoordelikheid dra
vir die toesig en sorg van die lidmate en personeel. Waar nodig moet
die leierskap Bybelse dissipline vir die beskerming van die plaaslike
kerk toepas.
• Ons glo dat die een ware Kerk is die hele gemeenskap van dié wat
deur Jesus Christus verlos en wedergebore is deur die Heilige Gees; en
dat die kerk op aarde die karakter van die hemelse Kerk moet aanneem.
Daarom is die nuwe geboorte en persoonlike belydenis van Christus
noodsaaklik vir kerklidmaatskap.
• Ons glo dat die Here Jesus Chritus twee sakramente ingestel het –
die Doop in water en die Nagmaal, wat as gehoorsaamheidstappe onderhou
moet word tot ’n ewige getuienis aan die belangrikste feite van die
Christelike geloof. Die doop is die onderdompeling van die gelowige in
water as ‘n belydenis van sy of haar identifikasie met Christus se
dood en opstanding, en die Here se Nagmaal is die deelname aan die
elemente wat simbolies is van die Verlosser se gebroke liggaam en
gestorte bloed, tot herinnering aan Sy offerdood totdat Hy kom.
• Ons glo dat daar in die Ou Testament vir Goddelike genesing
voorsiening gemaak is, en dat Goddelike genesing ‘n integrale deel van
die Evangelie uitmaak.
• Ons glo die Bybel leer ons dat sonder heiligmaking niemand die Here
sal sien nie. Ons glo in die leer van heiligmaking as ‘n definitiewe,
dog progressiewe werk van genade, wat by die nuwe geboorte begin en
voortduur tot en met die voltooiing van ons verlossing.
• Die Kerk is oop vir verdere waarheid, wat die Heilige Gees uit die
Skrif mag verlig.
KERNWAARDES VAN LEWENDE WOORD:
Liefde en genade
Ons sal ten alle tye God se gesindheid van liefde en genade teenoor
alle mense openbaar.
Eenheid
Ons is voortdurend daaraan toegewy om onderlinge Goddelike eenheid te
bewaar en enigiets te vermy en teë te staan wat onenigheid en
verdeeldheid bevorder.
Toewyding
Ons gee ons algehele toewyding en getrouheid aan die visie, missie en
kernwaardes van Lewende Woord.
Respek
Ons ag elke persoon as in die beeld van God geskape te wees en glo dat
onvoorwaardelike liefde en respek aan hulle betoon behoort te word,
ongeag van hul geslag en kulturele of sosiale status.
Diensbaarheid
In alles wat ons doen, openbaar ons ‘n gesindheid van nederigheid en
diensbaarheid.
Integriteit
Ons sal ten alle tye in eerlikheid, opregtheid en integriteit ten
opsigte van ons verhoudinge, finansies, tyd, hulpbronne en
verantwoordelikhede wandel.
|